Dis altyd
aangenaam om van ons eie Suid Afrikaanse uiters begaafde en talentvolle kunstenaars, wat in die verlede al in Stilbaai opgetree het, weer terug te
verwelkom. En dit was die geval met die Musiekvereniging se Gala-konsert van 24 November, waartydens Linette van der Merwe en Jonathan Moolman opgetree het. Die soet, helder en soepel klank van Jonathan se akoustiese kitaar in kombinasie met Linette se vol, ryk messo-sopraan stem, het die regte atmosfeer vir 'n genotvolle aand geskep .
Die
interessante program het bestaan uit ‘n
verskeidenheid van items - van
meer klassieke liedere en arias, waaronder
die pragtige Come again (Dowland),
Lascia ch’io pianga (Hӓndel)
en Seguidilla (Bizet) tot gewilde liedjies uit musiekblyspele,
wat onder andere die gewilde Summertime (Gershwin), Can’t help lovin’
that man (Loewe) en Somewhere
over the rainbow (Arlen & Stothart), ingesluit het. Linette se
uitstaande tegniese vaardigheid, vermoë om kontraste tussen ligte en
dramatiese styl af te wissel, goeie asembeheer, uitstekende diksie en fyn
aanvoeling vir vertolking, ondersteun deur Jonathan se uiters simpatieke en
briljante musikale kitaarbegeleiding, was duidelik waarneembaar. Opmerklik was ook
die fyn musikale aanvoeling tussen die twee kunstenaars.
Gedurende die vier solo kitaar-items, waaronder Salt water (Lennon), Recuerdos de la Alhambra (Tarrega), Blue Moon (Rogers & Hart) en El Noi de la Mare (Tradisioneel) het Jonathan se besondere musikalliteit, meesterlike speeltegniek en aanvoeling vir die kitaar as instrument, het duidelik na vore gekom.
Na ‘n welverdiende staande applous, is die aria Habanero uit die opera Carmen (Bizet) skitterend as toegif aangebied.
Welgedaan Linette en Jonathan!
Nina du Toit

No comments:
Post a Comment