Translate

Thursday, October 5, 2023

  TAKE FOUR PIANO QUARTET

Jeanne-Louise, Zanta, Elna, Susan

“Briljant, uitsonderlik, een van die beste konserte hierdie jaar,” was van die spontane reaksies van die entoesiastiese gehoor by die Musiekvereniging se Augustusmaand-konsert.  Bekend as die Take Four Piano Quartet, uiters bekwame klassieke musici en persoonlike vriendinne,  het Zanta Hofmeyr (viool), Susan Mouton (tjello), Elna van der Merwe (klavier) en Jeanne-Louise Moolman (alt-viool), die Stilbaai Musiekvereniging  besoek. Deur hul meesterlike musikale vertolking van twee groot werke van Johannes Brahms en Antonin Dvořák,   het die kunstenaars  daarin geslaag om die perfekte musikale ruimte vir die viering van Vrouemaand te skep. 

 

Die program is ge-open met Brahms se Klavierkwartet no. 1 in G-mineur, op. 25 wat as een van die mooiste en roerendste werke van die komponis beskou word.

Alhoewel die klavierkwartet se eerste drie bewegings naamlik Allegro, Intermezzo (Allegro) en Andate con moto, gekenmerk word deur pragtige magiese en ekspressiewe militaristiese melodieë (temas), musikale wisselwerking tussen die pianis en strykers, dinamiese vlakke en tempo-wissellings wat meesterlik deur die strykers en klavier hanteer is, word die laaste Rondo al Zingarese beweging as die hoogtepunt beskou. Hier gebruik Brahms eksotiese en emosionele Hongaarse idiome en sigeunermusiek, bekend as die Gypsy Style. Kenmerkend is die uiterstes van polsslae, ritmiese en melodiese bravade, dinamiese kontraste en virtuositeit wat briljant deur die strykers en klavier uitgevoer is. In die hoofrefrein gebruik Brahms 'n kenmerkende 2/4 polsslag wat herinner aan die Hongaarse taal wat geneig is om die eerste lettergreep van elke woord te beklemtoon. Deurentyd is mens bewustheid van die briljante musici se puik intonasie, die voortbring van pragtige vol ryk instrumentale klanke en hul uitsonderlike vermoë om mekaar intens musikaal aan te voel. 

Die tweede helfte van die program is gewy aan Dvořák se Klavierkwartet no.2 in E-mol majeur, op. 87. Dvorak was bekend vir sy pragtige melodieë wat in al vier bewegings voor kom. Die bekendstelling van ‘n tema deur een instrument, gevolg deur die ander partye, verrassende eind-akkoorde,  wisselende dinamiese vlakke waaronder vurige passievolle uitbarstings, ’n kwasi-melankoliese wals en ‘n finale beweging (Allegro ma non troppo) wat as 'n begeesterde Tsjeggiese volksdans aangebied word, is kenmerkend van hierdie klavierkwartet.

Met uitmuntende tegnieke, uitstekende intonasie en uitsonderlike musikale aanvoeling en vertolking van beide werke, het die kunstenaars dit ‘n onvergeetlike aand vir die gehoor gemaak.

Welgedaan en Bravo aan ‘n uitsonderlike Take Four  Piano Quartet. 

Nina du Toit





No comments: