Translate

Saturday, July 4, 2015

Amadeus Winds

Saterdagoggend 20 Junie het die Amadeus Winds Quintet van Kaapstad in Stilbaai opgetree. Die kwintet bestaan al 33 jaar en is gestig deur Elsabé (Fluit) en Henk Pretorius (Hobo). Die ander 3 lede is Becky Steltzner (Klarinet, leier van die groep en senior lektrise in musiek aan UCT), Nathalie Lawrenson (Franse horing) en Glyn Partridge (Fagot).

Die program was klassiek gesproke goed gevarieerd, vanaf die tradisionele Mozart (gevolg met sy "vyand" Cambini),  tot by die  Polka uit die Golden Age-ballet van Shostakovich.  
Die agtergrondkommentaar van Becky Steltzner op elke stuk was baie insiggewend.  Charles Lefebvre se Suite, opus 57, is spesifiek vir kwintet met bg. instrumentasie geskryf en het netjies ingepas om so die gehoor aan 'n kwintet voor te stel.  Die eerste Canon-beweging stel naamlik elke instrument aan die hoorder bekend, waarop die volgende bewegings verder uitbrei en afsluit. Die komponis Lefebvre se musiek weerspieël dikwels sy vader se skilderwerk, wat hierdie stuk inderdaad 'n helder kleurryke waterverfskildery maak! 

Na pouse het 'n kwintet van Anton Reicha (tydgenoot van Beethoven) aan die beurt gekom, 'n Pragtige toeganklike werk. Ook die Aubade van Barthe was aangrypend.  Twee kwartette is gespeel, ondermeer  Herbert Kelin se Variasies op Sarie Marais.  Die Novelette van Poulenc, deur Emerson tot kwintet verwerk en byna  onbekend as die oorspronklike klavierstuk, het daarop gevolg.  Genoemde verrassende  Polka van Shostakovich het tong-in-die-kies en spottend met die Westerse kultuur, die program netjies afgerond.

Afsluitend:  'n Gebalanseerde, insiggewende en toeganklike program met 'n helder  tema; baie professioneel aangebied en uitgevoer en met groot aplous waardeer deur 'n entoesiastiese gehoor.  Ons hoop hulle kom volgende jaar weer!  

No comments: