Translate

Friday, September 11, 2015

Tygerberg Kinderkoor betower Stilbaai

Wat ‘n vreugde – wat ‘n fees ! Voedsel vir die siel en ‘n genot om na te luister! Wat ‘n voorreg was dit vir ons op 15 Augustus 2015 om een van die heel beste kinderkore in die wêreld te ontvang.
Dié koor bestaan reeds vir 43 jaar, met Hennie Loock as leier en Theresa Loock as begeleidster/verwerker en gaan steeds van krag tot krag!
Baie streng keuring vind plaas en die groep floreer met uiterste disipline en toewyding met ‘n leier wat weet wat hy wil hê.
Met ‘n vol en ryk klank ; skoon legato lyne ; interpretasie van moeilike passasies en uitstekende diksie, maak dié koor ‘n wenner in die wêreld van koorkompetisies.
In 2010 word die koor aangewys as wenners in verskeie kategorië,  en algeheel aangewys as dié beste koor , tydens die wêreldwye koorspele in China.
Die program waarin Stilbaaiers (en besoekers) hulself kon verlustig , het verskeie klassieke koorwerke ingesluit : bv Mendellsohn-werke waarin die soliste besondere bydraes gelewer het.  Die Ave Maria (Bach/Gounod) was ‘n uitsonderlike aanbieding met ‘n baie besonderse solis : Courtney Hiscock.  Hou hierdie dogter dop ! Die uitbeelding van water – “Moments of Water” was ‘n vertoon van besonderse vermoëns deur die volle koor.  Die Afrikaanse liedere – “Sewe Boerneef-liedjies” ; “Heimwee” ;  “Straattroebadoere” en ‘n aantal volkswysies, sowal as ‘n paar tradisionele (Tswana/Xhosa) liedere , het groot byval gevind.
Die vele ander liedjies, met en sonder begeleiding op instrumente gespeel deur koorlede, het gesorg dat die gehoor soos een persoon die Tygerberg Kinderkoor staande toegejuig het !
Weereens, ‘n besondere suksesvolle en uiters genotvolle konsert - na ons gebring deur die Stilbaai Musiekvereniging.






No comments: