Translate

Tuesday, May 6, 2014

Kaapstadse Mannekoor besoek Stilbaai ‘n tweede keer


Sedert hul vorige besoek aan Stilbaai het hierdie koor besondere blootstelling gehad tydens ‘n feeskonsert in die Royal Festival Hall, London, waar hulle, saam met ‘n koor uit Johannesburg, die vasteland Afrika verteenwoordig het .
Die dirigent het die manne in die holte van haar hand en saam met ‘n uitstekende begeleier maak hierdie koor ‘n besonderse indruk wat klank en uitvoering betref.
‘n Sterk en stewige klank van die basse, teenoor die volronde falsetklank van die tenore, toon geen teken van die gewone harde en skerp klank wat soms van mannekore ervaar word nie. Hier het ons gepaste kontras tussen hard en sag vir volkome afwisseling ervaar !
Die drie gewyde liedere aan die begin van die program het ‘n rustige atmosfeer gebring met ‘n vol en ryk klank wat dadelik hul meesterskap in beheer en balans geïllustreer het.
Die “Showboat Keurspel”, “Love changes everything” en “Finlandia” was gewilde stukke vir die waarderende gehoor. Leonard Cohen se “Halleluja” het weereens hul besondere beheer met pragtige legato en uniforme klank sterk gekomplimenteer.
Besonderse soliste, ‘n uitstekende begeleier en besielde dirigent, sowel as koorlede wat alle musiek uit hul kop sing, het ‘n besonderse optrede gewaarborg !
Die Stilbaai Mannekoor het ook aan die program deelgeneem. “Thank heaven for little girls” en “Hear my song” was veral gewilde aanbiedings, 
Mag die manne in Stilbaai genot put uit hul samesang.


B Niehaus

No comments: