Translate

Friday, October 4, 2013

"Musiek uit Rusland" met Denis van Rensburg

Sondag 29 Oktober het die Musiekvereniginglede ‘n uitsonderlike aand beleef toe Denis van Rensburg (afgetrede Rektor van die Pretoria Technikon) ‘n praatjie gegee het oor “Musiek uit Rusland”.  Hy gesels gemaklik en onderhoudend oor sy onderwerp en lig dit toe met interessante staaltjies en agtergrond inligting, wat dit ‘n heerlike verrykende ervaring maak.  Die pragtige program is toegelig met toepaslike DVD’s .

Denis het begin deur musiek van Russiese komponiste te speel – oa.‘n klavierkonsert van Sergei Rachmaninoff, gespeel deur die 82 jarige Vladimir Horowitz,  wie in 1925 uit Rusland gevlug het. Met sy eerste terugkeer na sy geboorteland in 1986, het hy twee konserte is Rusland gehou en met beide konserte was die kaartjies binne ure uitverkoop! Horowitz was ‘n persoonlike kennis van Rachmaninoff  en lg. het ruimtelik erken dat hierdie uitsonderlike kunstenaar werklik sy musiek kon speel met die gevoel waarin dit gekomponeer is!
 ‘n Russiese pianis dus, wie Russiese musiek meesterlik vertolk het.

Die gehoor het toe kennisgemaak met verskeie Russiese musiekinstrumente, waarvan die driehoekige balalaika met sy drie dubbel-snare, die bekendste is. Die eie-soortige Russiese akkordion, die “bayan”, met sy knoppies instede van die gebruiklike trekklavier-note, is ook na geluister op een van Denis se DVD’s.

Daarna was volksmusiek aan die beurt met o.a. die bekende “Kalinka”, gesing deur die Russiese Rooi Leër Koor, en verrassend, dansers wat tradisionele volksdanse gedoen het.  Dit is skynbaar  nie net die bekende Don Kossakke wat as ‘n Russiese mannekoor bekendheid verwerf  het nie, maar ook die Ural Kossakke en ook ‘n groep mans in Duitsland wie as ‘n Kossakke-koor naam gemaak het.  Die bekende “Aandklokke” is deur hierdie Duitse groep aan ons voorgehou.

Ivan Rebroff het gesorg vir die bekende Russiese volkswysie, die “Legende van die Twaalf Rowers”, wat hy met sy kenmerkende wisseling tussen diep basstem en falsetto gesing het.  Denis het vertel dat Rebroff in werklikheid nie eens ‘n Rus was nie, maar in Berlyn as Hans-Rolf Rippert gebore is!  Hy het hom eenvoudig op 'n Russiese beeld geskoei, en met meer as 6 000 konserte ‘n fortuin met sy uitsonderlike stem gemaak!

Geen Russiese musiekaand kan sonder Russiese ballet wees nie, en ons het gekyk na “The Dying Swan” gedans deur Nina Ananiashvili, ‘n merkwaardige danseres, wie se arm/vlerk-bewegings totaal onmoontlik lyk.  Direk daarna het Denis almal laat skaterlag met dieselfde balletstuk gedans deur ‘n man, waar die swaan se vere konstant neergesif het – totdat hy ten laaste neersyg en sy een been stofstyf in die lug bly hang!

Laaste aan die beurt was sekerlik die bekendste hedendaagse Russiese operasanger en die gehoor is trakteer op die uitsonderlike stem van Anna Netrebko.  Ons het hier uittreksels van‘n DVD gesien waar sy in Duitsland op die verhoog haar skoene uitgeskop het en blomme na die manne in die gehoor gegooi het. Die Duitse skare was natuurlik mal oor haar uitspattigheid ! Om die aand op ‘n hoogtepunt af te sluit, het Denis twee snitte gespeel waar Anna Netrebko saam met Rolando Villazon en Plaçido Domingo optree.  Nou weliswaar nie Russiese musiek nie, maar die aanhoorders was in vervoering en almal wil nou hierdie DVD aankoop.

Die Musiekwaarderingsaande is werklik die moeite werd om by te woon. En dit kos niks!

Louise en Mike



No comments: