Translate

Friday, September 27, 2013

Die Hongaarse Trio

Die Stilbaaise Musiekvereniging het weereens 'n treffer aangebied. Die "Hongaarse Trio" het Maandagaand, 9 September, hier opgetree in die Kerksaal-Oos. Die talentvolle musici, 'n violis Gabor Jeney, fluitspeler Nerina von Mayer, en basviolis Donat Pellei, is al drie uitstaande musikante wat almal al ere toekennings verwerf het. Al was dit 'n koue aand, het dit Stilbaaiers nie weerhou om te kom luister en geniet nie.
 
Die program is saamgestel uit uittreksels en komposies van verskeie klassieke komponiste asook moderne werke, meesal goed bekend. Die program voor pouse het werke bevat van bekende klassieke komponiste oa. Pacelbel, Mozart, Bizet, Strauss, Schrammel, Liszt en Brahms. Na pouse is meer kontemporêre musiek, van 'n ligter trant gespeel, soos Lehar, Hardiman, Gardel, Mc Hughey, Gade en Ravel. Voor elke voordrag het Gabor breedvoerig iets van die komponis aangehaal en verskeie interessante staaltjies vertel. Dit het bygedra om die program soveel meer genotvol te maak.
 
Die program is ingelui met die Pachelbel Kanon waar die pragtige inleidende tema  op gevoelvolle manier deur Donat op die basviool vertolk is. Die fluitspeler het veral die gedeeltes uit Mozart se Towerfluit  goed bemeester.
 
Van die ligter werke het ingesluit Green Sleeves, Dreams,  Jealousy Tango en Scent of a Woman. Gabor het veral uitgeblink in sy spel van Jealousy Tango en was met hart en siel betrokke. Die fluitspel van die Ierse Lord of the Dance was besonder flink en treffend en het groot byval by die gehoor gevind. Die program is afgesluit met 'n encore van Andrew Lloyd Weber.
 
Dit was 'n genotvolle en ontspanne aand wat nog lank onthou sal word.
 
 

Dr Marian Smit

No comments: