Translate

Friday, September 27, 2013

David Scheel “Don’t shoot me, I’m only the piano player”.

Dit was die aanbieding van die Stilbaai Musiekvereniging op 13 Julie 2013 – ‘n andersoortige program deur David Scheel, die Australiese komediant pianis.
Staaltjies uit sy loopbaan as konsertpianis het die gehoor by tye laat skater. ‘n Bekende volkswysie word in die styl van komponiste soos Mozart, Tchaikovsky, Albeniz en selfs ‘n “swing style” aangebied. Die bekende melodie “Memory” van Andrew Lloyd Webber en “Jesu, joy of man’s desire” van JS Bach word gelyktydig gespeel – een hand “Memory”, die ander hand  “Jesu Joy”,  wat ‘n fyn oor en fyn luister van waar watter wysie is, vereis.
‘n Aantal van sy eie komposisies was nogal heel aanvaarbaar: “Dance of the birds” was ‘n pas de duet in tipiese balletstyl –  hulle vlieg deur die lug in sirkels en steel selfs ‘n soentjie! Die “Pastorale” uit sy Simfonie in Gmin het in rustige sangerige styl,  ‘n dag in die natuur mooi verbeeld. “In the Fall” was ‘n blik oor die woude en die meer – ‘n spel van oranje, geel en bruin herfskleure.
Vier persone uit die gehoor gee elkeen ‘n noot op eie toonhoogte en hy bou daaruit ‘n redelik dramatiese improvisasie stuk. Die bekende lied “Walzing Mathilda” word op humoristiese wyse uitmekaar gehaal en met verskeie betekenisse uitgebeeld.
Ten slotte volg ‘n keurspel van 22 bekende wysies wat dikwels deur die publiek versoek word – stukke soos Für Elize, Blou Donou, Ronda alla Turka, Baby Elephant walk, Somewhere my love, en verskeie ander. Ek kon darem die meeste daarvan herken!
Dit was ‘n humoristiese aand. David Scheel sê na die uitvoering dat hy die vriendelike ontvangs en die Stilbaai gehoor baie waardeer het.

Bettie Niehaus

No comments: