Translate

Monday, July 8, 2013

Vivace : 'n Besonderse kitaaruitvoering

Die kitaarduo, “Vivace” het op 26 Junie die gehoor van musieklief- hebbers op Stilbaai verras met hulle besondere samespel en die pragtige klankkleur van die twee kitare. Die twee jong kunstenaars van Pretoria, Jonathan Moolman en Gerrit Roos, het ‘n interessante program met 'n wye verskeiden- heid aangebied.
Die eerste drie stukke op die program, String Theory, Millie’s walk en High Noon, is komposisies van Jonathan Moolman en is besondere uitbeeldings van eie ervarings. Veral  Millie’s walk, geïnspireer deur sy hondjie, het groot byval gevind!
Die Concerto in D van JS Bach was ‘n oorspronklike komposisie van Vivaldi wat deur Bach vir die klawersimbel aangepas is en uiteindelik   vir twee kitare verwerk is. Die hooftema word verdeel tussen die twee kitare wat dit soos ‘n gesprek tussen twee persone laat klink. Die stukke deur MD Pujol het ‘n Argentynse kleur met ‘n sterk tango-ritme. Die derde deel het, in kontras hiermee, ‘n herkenbare dromritme afkomstig uit Afrika. 
Dit was opvallend dat die kunstenaars voortdurend op die musiek en op mekaar gefokus het, en nie op hulle hande gekyk het nie. Tussendeur het hulle interessante inligting oor die musiekstukke en die kitare verskaf. 
Freddy Mercury se Bohemian Rhapsody, verwerk deur die twee kunstenaars, is ‘n dramatiese lied vol emosie, en is uitmuntend deur die twee kunstenaars vertolk. Concerning Hobbits, oorspronklik vir die orkes geskryf, is baie interessant deur hulle verwerk vir die kitaar: hulle gebruik ‘n tremolo-effek om die note langer te laat klink, aangesien die kitaar eintlik ‘n “pluk”instrument is en nie gestryk kan word soos met ‘n viool nie.
 ‘n Werk van Boccherini in Spaanse styl, wat Flamenco volksmusiek simboliseer, het die gehoor bekoor. Die bekende tema uit “The Deerhunter”, wat deur John Williams bekend gemaak is, was die perfekte toegif om so ‘n heerlike aand met sulke talentvolle en sjarmante kunstenaars, af te sluit.

Almal is dit eens – dit was nog ‘n suksesvolle aand, aangebied deur die Musiekvereniging van Stilbaai. 
Bettie en Louise

No comments: