Translate

Wednesday, May 29, 2013

“Stilbaai musiekfees”


 Die Musiekvereniging van Stilbaai het weereens ‘n fees van musiek vir die liefhebbers van klassieke musiek aangebied.

Die Kamermusiek Trio betaande uit Stefan Lombard (klavier), François Luc Arzul (viool) en Niël Smit (Franse horing) – almal meesters van hulle instrumente, het op 24 Mei ‘n baie spesiale program aangebied.

Die program is ingelei met ‘n baie besondere stuk :  ‘n Trio vir Franse horing, viool en klavier. Daar was geen bladmusiek beskikbaar van die stuk nie en Stefan en sy vriende het dit self neergeskryf na aanleiding van ‘n elektroniese opname. Hierdie groep musikante is tans die enigste groep in die wêreld wat hierdie komposisie van die redelike onbekende komponis Duvenoy uitvoer! Duvernoy was self ‘n bedrewe Franse horingspeler.

Die Sonate in E Min. vir klavier en viool is een van 35 sonates vir viool deur Mozart, en hierdie word beskou as een van die juwele vir viool. Die tipiese kristalheldere toonkwalitiet van Mozart se musiek, is mooi afgewissel met rustige en meer sombere gedeeltes. Die tweede gedeelte (minuet) is in tradisionele dansstyl, vol trillers en ligte vrolike klanke - wat Francois voortreflik uitgevoer het. 

Die sonate vir Franse horing en klavier deur Beethoven, is ‘n toonbeeld van die besondere klankkwaliteit van die horing, wat aanvanklik deur jagters gebruik is!  'n Latere ontwikkeling was die “opgerolde” hol pyp, waar daar met die hand in die kelk van die instrument, klanke gereguleer word. Die speeltegniek van die Franse horing het verander sedert kleppe gebruik word om die toonhoogte te beheer, tesame met  die beweging van die hand/vuis in die kegel, om sekere effekte te bewerkstellig. Neil het bewys dat hy hierdie komplekse instrument heeltemaal bemeester het. Die ryk klank van Beethoven en die musiek se akkoorde, het besondere ondersteuning van die pianis vereis en die begeleier was te alle tye daar om die vloeiende, en soms sterk aggressiewe klanke, van die Franse horing te dra. 

Die Trio vir Franse horing, viool en klavier van Brahms het ons geneem  na die Romantiese tydperk.  Die “Andante”  het ‘n sterk landelike atmosfeer geskep, met ryk akkoorde en sterk ritmes. In die laaste beweging voel dit asof die verskillende instrumente mekaar rondjaag en  lekker gesinkopeerde ritmes ook voorgehou word. Die stuk het afgesluit met ‘n groot uitbarsting van klanke, wat die gehoor op hulle voete gehad het.

As toegif, ‘n pragtige “chanson” van Rachmaninoff – ‘n volmaakte afsluiting van ‘n aand van afwisselende klanke. Baie dankie aan hierdie drie uiters begaafde musikante. Julle het ons siele gevoed !


Bettie Niehaus

No comments: