Translate

Wednesday, November 14, 2012

DUO PAGANINI het die gehoor op hulle voete!


Die Stilbaai Musiekvereniging het Woensdagaand 24 Oktober hulle jaar op ‘n hoë noot afgesluit met die Duo Paganini.

Die Duo Paganini is in 1999 op die been gebring, toe twee uitmuntende kunstenaars, ‘n violis, Ian van Rensburg en kitaar speler, Soren Madsen besluit het om saam voor te dra. Ian is ‘n gebore Suid Afrikaner en woon al vir 20 jaar in Denemarke. Soren is ‘n Deen van murg en been.

In 1984 het Ian die vioolkompetisie van die destydse Kaapse Simfonie Orkes gewen. Hy het daarna ook aan die Julliard studeer en is tans leier van die Aartus Simfonie orkes in Denemarke. Soren het jare ondervinding van die kitaar opgedoen in Aartus, Basil en Wenen. Hy komponeer ook self vir die kitaar. Hulle repertoire strek van vroeë Barok tot kontemporêre musiek.

Hulle beste kombinasie bly in die werke van Paganini, vandaar die naam Duo Paganini.
Paganini was onder sy vriende bekend as “die duiwel” want geen een kon so met die tegniek van die instrument ekperimenteer soos hy nie. Daarvan getuig die moeilike passasies in sy werke.

Die aand se program is ingelui deur ‘n meesleurende werk van die Franse komponis Desplanes. Drie werke van Paganini is meesterlik deur die violis uitgevoer met begeleiding van die kitaar. Die moeilike verskillende viooltegnieke word daarin gedemonstreer. Waarlik ‘n uitdaging vir ‘n violis! Hierin het Ian uitmuntend geslaag. Die begeleiding deur die gitaar was ritmies en gevoelvol.

Werke van ander komponiste is ook gespeel, bv Guilian, Piazolla en de Sarasate.
Twee items, deur Soren self gekomponeer, is uitgevoer, en is geiinspireer deur die Flamenko kitaar wat die sentiment van Andalusia weergee.

Die gehoor het hulle ‘n staande ovasie gegee en as toegif het hulle nog twee items gespeel, een waarvan die ”Die  trein van noord na suid”.  Die geluid van die lokomotief was besonder realisties oorgedra.

Dit was weereens ‘n besondere aand wat dit die moeite werd maak om aan die Stilbaaise musiekvereniging te behoort.

Ons wens alle lede ‘n geseënde Kerstyd toe.

Dr Marian Smit


No comments: