Translate

Monday, September 17, 2012

Cape Town Male Voice Choir oorrompel Stilbaai gehoor


Die Cape Town Male Voice Choir het Saterdagaand 9 September in Kerksaal-Oos opgetree - nog 'n uitstaande aanbieding deur die Stilbaai Musiekvereniging. Die koor het onlangs teruggekom van London waar hulle besondere sukses behaal het met hul optrede by die "Wales Choirs of the World" konsert, as verteenwoordigers van Afrika. Dit het plaasgevind in die Royal Festival Hall by geleentheid van die Olimpiese Spele in London.
Die koor bestaan sedert 1976 en staan die afgelope 17 jaar onder leiding van Margaret Barlow en bygestaan deur die begeleier, Warren Patientia.
Die koor het die saal al singende ingekom met kerse in die hand. Bekende liedere in die eerste helfte van die progam het ingesluit: I Believe, Speed your Journey, Amazing Grace en 'n tradisionele Zulu melodie met 'n besondere bas solis, Serge Sabuc Sulu.
Na pouse was daar 'n welkome afwisseling toe 4 lede van die koor opgetree het in 'n vertoning van 2 Barbershop liedere - iets uit die ou dae!
Die tweede helfte het begin met 'n baie besondere lied uit Afrika - spesiaal geskryf vir die optrede in London. Dit het dele uit N'Kosi Sikeleli Afrika bevat asook die bekende Plea for Africa met 'n baie besonderse uitbeelding van 'n Hoëveldse donderstorm: Met "sh"-klanke, klap van die hande en die stamp van voete, het die weerlig en donderweer geslaan en die reëndruppels op die dak gedreun!
African Trilogy het 'n samevoeging van liedere soos Manguane Mpulele, Hey Moswale en ander tradisionele Afrika melodieë ingesluit. Die immergroen Andrew Lloyd Webber se Love changes everything is op gevoelvolle wyse deur die solis John Bolton voorgedra. Sweet Geogia Brown was 'n lekker vrolike item en die program is afgesluit met die bekende When the saints go marching in - 'n lied by uitstek vir mannekore! 'n Ware fees van musiek het ons te beurt geval. Ek hoop Stilbaai se mense sal met 'n lied in die hart elke dag tegemoed gaan - "Vrees niet waar weerklinkt een lied, slechten mensen singen niet."
Bettie Niehaus.

No comments: