Translate

Wednesday, June 20, 2012

Bushakevitz Ensemble betower Stilbaai

 Ammiel (klavier) en Avigail (viool) Bushakevitz, musikale broer-en-suster Ensemble,  het op 2 Junie ‘n uitmuntende konsert in Stilbaai aangebied.

Die program is ingelei met Schubert se  Sonata in A Majeur, vir viool en klavier – ‘n Sonata wat eers 30 jaar na Schubert se dood gepubliseer is.  Die fyn, liriese melodie van die eerste beweging is afgewissel met briljante passasies, wat Avigail foutloos uitgevoer het.   In die 3e beweging is die gesprek tussen klavier en viool meesterlik uitgevoer en het die wedersydse fyn aanvoeling vir mekaar se spel, duidelik geblyk. 

Deur sy gevoelvolle vertolking van Brahms se Intermezzo, op. 118 no. 2, het Ammiel gewys hy is ‘n bedrewe konsertpianis in eie reg en het hy die vol, ryk akkoorde van Brahms, pragtig vertolk.  Dit is gevolg deur Franz Liszt se “Les cloches de Geneve”  -  ‘n nabootsing van die gelui van klokke oor die stad Genéve, ‘n komposisie wat Liszt geskryf het tydens een van sy reise In Europa. Die stuk begin met roerende enkelnote, en swel dan na die tipiese kragtoertjies wat Liszt se musiek kenmerk;  ‘n uitdaging  vir enige pianis. Die eerste helfte van die program is afgesluit met Tchaikovsky se “Meditation”  - ‘n somber, melankoliese werk met ‘n pragtige melodielyn, wat Avigail en Ammiel  eensgelyks meesterlik vertolk het. 

Die tweede helfte van die program het uit slegs een werk bestaan, nl. Richard Strauss se Sonata vir viool en klavier – een van 3 Sonatas in die styl van die opera “Der Rosenkavalier”.  Sterk klanke in akkoorde kenmerk die eerste beweging, (wat Ammiel se tegniese vaardigheid afgewys het),  terwyl die tweede beweging ‘n speelse romantiese styl handhaaf. Hier het Avigail die viool behoorlik laat sing. Die oënskynlike gemak waarmee haar vingertjies blitsig oor die snare gly, het vioolspeel sommer maklik laat lyk!. Die rapport tussen die twee kunstenaars was ‘n musikale belewenis. Twee kort Romeense volksdanse deur Bela Bartok, is as toegif gespeel en het groot byval by die gehoor gevind. Dat hierdie twee jong musikante besonder begaafd is, is nie te betwyfel nie. Dit was 'n sielsbevredigende aand.


No comments: