Translate

Saturday, May 12, 2012

Die Suid-Kaap Kinderkoor


Die Suid-Kaap Kinderkoor het op Vrydagaand 20 April ‘n konsert van besondere gehalte  in  Stilbaai gelewerDie eerste helfte van die aand het bestaan uit meer ernstige werke van ‘n besondere hoë standaard, en die suiwer kwaliteit van die stemme, veral die helder klank van die soprane, het die waarderende gehoor beïndruk. Die ensemble-sang was voortreflik en die werke van Bach, Purcell, Schütz en Mozart, wat hoë eise aan die jong stemme gestel het,  is uitstekend en met besondere oorgawe oorgedra. 
Die gehoor het veral die tweede helfte van die program, wat uit ligter liedere bestaan het, baie geniet. Die Xhosa liedere het groot byval gevind en die soliste, Ashanti van Wyk, Anja Tait, Brighitte Deister en Ncuthukazi Webber het beïndruk. Hou hierdie jong sangers dop. Ons glo dat ons in die toekoms nog baie van hulle gaan hoor.
Die koorleier, Jan-Erik Swart het die koor duidelik onder sy bekwame beheer. ‘n Groot deel van die SKKK se repertorium vir 2012 is self deur hom verwerk.  Dit is voorwaar ‘n prestasie.  Die talentvolle begeleier, Throy Peterson, ‘n oud-koorlid en tans in graad-12 in York High School, George, het die koor besonder goed ondersteun.  Hy hoop om verder te gaan studeer aan die bekende Guilliard Musiekskool in New York.
Dit was voorwaar ‘n genotvolle aand met koorsang uit die hoogste rakke. Waardige wenners van die ATKV-Koorkompetisie!

Bettie Niehaus

No comments: