Wat
‘n onvergeetlike aand saam met hierdie vier welbekende, wêreldgehalte
musikante! Zanta Hofmeyr, Jeanne-Louise Moolman, Susan Mouton en Elna van der
Merwe het, soos altyd, ‘n uitvoering van nie net hoogstaande gehalte nie, maar
ook musikale magiesheid gelewer.
Hulle
het twee werke uitgevoer: Johannes
Brahms se diep emosionele en meesleurende Klavierkwartet nr 1 in G-mineur, opus
25 en Antonin Dvořák se intense Klavierkwartet nr 2 in E ♭ majeur, opus 87. Ons was bevoorreg om met hierdie twee
werk bederf te word.
Die
Brahms klavierkwartet is tussen 1856 en 1861 gekomponeer en is die eerste twee
kere deur onderskeidelik Cara Schumann (1861) en Brahms self (16/11/1862)
uitgevoer. Dit is geskryf vir Klavier, viool, altviool en cello met die
volgende bewegings:
I. Allegro
II. Intermezzo: Allegro, ma non troppo
III. Andante con moto
IV. Rondo alla Zingarese: Presto
Die
Allegro begin met ‘n unisone tema in kwartnote in 4/4 tyd in die klavierparty,
wat na ‘n paar frases deur die cello oorgeneem word. Elna en Susan het dit in
perfekte simbiose uitgevoer en die luisteraar voorberei op die intens
emosionele musiek wat sou volg. Die tweede beweging het ‘n onderliggende
dringendheid, met die cello wat feitlik deurgaans die toon aangee. Die blitsvinnige uitdagende laaste beweging
is met absolute presisie en vuur uitgevoer en het die gehoor asemloos gelaat
Dvořák
se klavierkwartet is in die somer van 1889 gekomponeer en die eerste keer
uitgevoer op 17/10/1890. Dit bestaan uit:
I. Allegro con fuoco
II. Lento
III. Allegro moderato, grazioso
IV. Finale: Allegro, ma non troppo
Daar
is ‘n duidelike sin van drama en intensiteit in hierdie werk, wat, soos met die
Brahms, meesterlik deur hierdie klavierkwartet oorgedra is. Die openingstema word
deur die strykers gespeel, waarna die klavier dadelik daarop antwoord. Daarna
vleg verskeie oorvleuelende teksture inmekaar. Die vyf pragtige temas in die
liriese tweede beweging het beelde van ‘n rustige stroom tussen bome deur
opgeroep. Die wye omvang van emosies is oortuigend en gevoelvol deur die
musikante uitgebeeld. Die derde beweging
is tipies van Dvořák, gekenmerk deur volksmelodieë en -style, wonderlik gedra
deur strykers en klavier. Die laaste lewendige,
vewikkelde wisselwerking tusse instruments is met oortuiging en intensiteit
deur die musikante aan ons gegee. Dit het triomfantelik geëindig met weereens
‘n uiters waarderende gehoor.
Take
Four is nou ‘n jaarlikse instelling hier op Stilbaai en ek sien met geesdrif
daarna uit om hulle in 2026 weer te hoor.
Annelize
Viljoen

No comments:
Post a Comment