Translate

Saturday, December 17, 2022

A Touch of Christmas

Louise van Wyk Visser
Wat ‘n wonderlike manier om met ‘n pragtige keurspel van welbekende verwerkte Kerskomposisies, ondersteun deur  ligte romatiese en klassieke musiekjuwele, die naderende Kersgety in te gaan.  ‘n Verrassende en verrykende program, aangebied deur die hoog aangeskrewe lede van  A Touch of Christmas  ensamble uit Mosselbaai,  het ons jaarlikse Galakonsert op ‘n hoogtepunt laat eindig.
Olive Sandilands

Die kombinasie en gebruik van die verskillende  instrumente,  bestaande uit ‘n harp, fluit, stem (sopraan) met klavierbegeleiding, het mekaar deurentyd  gekomplimenteer en musikaal goed aangevoel. 

Die program is ingelei deur fluitspeler Louise van Wyk Visser met klavier begeleiding deur Olive Sandlands wat die Suite Antigue van die welbekende John Rutter uitsonderlik goed vertolk het. In Mozart se Concerto vir Fluit en Harp het Louise van Wyk Visser en harpspeelster Olga Schoeman n meesterlike musikale tweespel uitgevoer waar die tema telkemaal tussen die instrumente “ge-eggo’ is. Veral gedurende die Koda-gedeelte is hul puik tegnieke ook tentoongestel.
 

Olga Schoeman
 Olga Schoeman kan as ‘n wereldklas harpsspeelster beskou word. Haar uitvoerings van Deux Preludes (Marcel Tournier) en Alphonse Hasselmans se Gitana Caprice was van die hoogtepunte van die aand.  In eersgenoemde komposisie word die tema in verskillende klankregisters herhaal, ingekleur deur meesterlike dinamiektoepassings, variasies, glissandos en ‘n onverwagse slot noot. Die speelse Gitana Caprice was ‘n tentoonstelling van Olga se meestelike speeltegniek, afgerond met puik musikale inkleding.

Phyllis Goldblatt

Phyllis Goldblatt se soet en aangename sopraanstem, veral in die hoë register, het bygedra tot die feestelike voorbereiding van die Kersgety. Bekende Kersliedere waaronder  Mariae Wiegenlied (Max Reger), Ave Maria (Vladimir Vavilov), What Child is This (tradisionele volksliedjie), Gesu Bambino (Pietrio Yon), Alleluja (Mozart) en O Holy Night (Adolphe Adam) is uitsonderlik goed voorgedra, ondersteun deur baie goeie musikale verwerkings vir die instrumente wat die stem die nodige ondersteuning gebied het.

Olive Sandlands se besondere sensitiewe, simpatieke en musikale  klavierbegeleiding verdien lof. Haar aanvoeling om ‘n “veilige ruimte” vir die harp, fluit en stem se voordragte te skep, was merkwaardig.

 Aan die einde van ‘n baie aangename aand, is die entoesiastiese en waarderende gehoor  beloon met die welbekende Barcarolle (Offenbach) as encore.

Daar word met groot verwagting uitgesien na verdere optredes deur hierdie besondere musici uit ons eie Tuinroete-omgewing.

Nina du Toit



No comments: