Translate

Wednesday, April 29, 2015

Briljante pianis uit België lewer puik uitvoering in Stilbaai

Nikolaas Kende, ‘n 34 jarige pianis uit een van die lande wat ‘n jarelange kultuur verdrag met Suid-Afrika het, het ‘n pragtige program van hoofsaaklik romantiese musiek voorgedra.
Die  “Sonata in A min” in drie bewegings is tipies Schubert met mooi, vol, ryk akkoorde afgewissel met ligte fyn passasies. Die tweede beweging is baie beweeglik met ‘n pragtige singende melodie teenoor ligte speelse begeleiding. In die derde beweging was daar volop toonleer passasies en trillers – alles voortreflik uitgevoer deur Kende.
Liszt se musiek word gekenmerk deur intense tegniese vaardigheid. Sy “Tre Sonetti del Patrarca”  is amper soos drie klein sonatatjies en is meesterlik met fyn, flinke vingerwerk uitgevoer.
Chopin se nocturnes, of te wel Nagliedere, is altyd gewild. Hierdie werke is strelend en romanties van aard en verg ‘n besondere gevoelvolle aanslag deur die pianis.  Kende het die gehoor meegesleur met die Nocturne in C-kruis Min..
Bach se “Prelude in B mineur” is oorspronklik vir die orrel geskryf en is meer van ’n studie om tegniese vaardigheid te illustreer. Weereens het Kende gewys dat hy dit foutloos en met gemak en met gevoel kan baasraak.
Die laaste stuk was Beethoven se “Sonate Opus 111 .  Dit is ‘n aangrypende stuk musiek vol energie en drama en die enigste van die 32 sonatas wat hy nagelaat het wat net twee bewegings het.  Die tweede beweging is ryk en emosioneel  -variasies op ‘n tema -met ‘n aangrypende klimaks aan die einde. Kende se gevoelvolle vertolking het talle van die gehoor tot trane beweeg. Beethoven was al stokdoof toe hy hierdie Sonate geskryf het en volgens oorlewering, het hy beweer dat hy niks verder gehad het om te sê nie. Hy het met die hele program geen bladmusiek gebruik nie. Kende is staande toegejuig.
Nikolaas Kende het op vroeë ouderdom verskeie pryse en toekennings gewen. Sy internasionale loopbaan het vroeg begin en hy het al konserte  gehou in Frankryk, Duitsland, Spanje, Italië, Portugal en selfs Amerika. Hy het ook al opgetree saam met die meeste groot orkeste in Europa. Sedert 2003 tree hy op in duet met Jolente De Mayer (viool), maak opnames vir die Vlaamse Klassieke Kanaal asook vir TV.  Wat ‘n belewenis om so ‘n uitmuntende jong kunstenaar in Stilbaai te kon ontvang!


No comments: