Translate

Thursday, November 21, 2013

BRAVISSIMO

Elna, Minette, Magdalena, Lynelle, Goitse, Janelle

‘n Uitstekende konsert deur vyf opera soprane, jong professionele sangers uit Kaapstad, het die jaarprogram van die Stilbaai Musiekvereniging op ‘n hoë noot afgesluit – ‘n GALAkonsert soos min op die platteland gehoor word. ‘n Staande ovasie het die vyf dames en hul briljante begeleier, Elna van der Merwe, te beurt geval. Die gehoor het hulle behoorlik toegejuig!
Magdalena Minnaar, Minette du Toit-Pierce, Lynelle Kenned, Janelle Visagie en Goitsemang Lehobye  het die uitgelese gehoor van musiekliefhebbers getrakteer op solo’s, duette, trio’s, kwartette en ‘n kwintet of drie.
Werke soos Barcarolle uit die Verhale van Hoffman en Die Blommelied uit Lakme van Delibes het die gehoor tot trane geroer.  Ander aangrypende areas was  Die Briewe-duet, Sull’aria, van Mozart, O mio babbino caro, Habanera uit Carmen en Musetta se walslied.
Die tweede deel van die program was ligter van aard met liedere uit operettes en Musiekblyspele. Bekendes soos “Mein Herr Marquiz”,  “Wien, nur du allein” “Mein Lippen sie küssen so heiss” , “Vilia”, “Summertime” en “I feel pretty” het ‘n vrolike atmosfeer geskep en almal betower. Die aand is afgesluit met “I could have danced all night”  wat as toegif herhaal is, en die gehoor het lustig saamgesing.
Die vrolike groep dames was die hele tyd almal op die verhoog maar daar was gedurige beweging van die sangers soos hul in verskeie kombinasies saam gesing het. Die gewilde, bekende liedere is deur die gehoor geniet en die sangers het met spontaniïteit en vreugde die musiek oorgedra.
Veels geluk aan hul promotor, Niël Rademan vir ‘n interessante program met uitstekende stemme – almal meesters van hulle vak! Die puik dramatisering van die stemming van elke lied het verder bygedra tot die genot van die aand. Dit was voorwaar ‘n GALA-aand, en ‘n hoogtepunt wat moeilik geklop sal kan word!
Baie dankie aan elke deelnemer én dié wat kon deel in die genot van die aand!
Bettie Niehaus

No comments: