Translate

Thursday, August 26, 2010

London Song Circle

"Ons is darem bevooreg om so gereeld lewendige musiek-uitvoerings van sulke uitstaande gehalte te hoor hier op Stilbaai!”, sê Ada Hamers hier skuins agter my by nou-die-aand se musiekuitvoering. Dis Woendagaand, 28 Julie. Ons luister in die Kerksaal-oos na ’n uitvoering deur die London Song Circle, ‘n groep bestaande uit die Suid-Afrikaanse sopraan Erica Eloff, die nederlandse mezzo-sopraan Margriet van Reisen en hulle begeleier (en ook solis) op die klavier, Mark Nixon.

Ek kan nie anders as om met Ada saam te stem nie. Met die wegvalslag reeds vul hierdie drie se weergawe van Duets and songs by Henry Purcell (arranged by Britten) die saaltjie met volheid en volume - amper te oorweldigend.

Hulle verplaas ons terug na ‘n soiree in ‘n statige British Manor Country House. Ons almal grand aangetrek. Stately chairs, barokagtig. Prim en proper. Mark vra dat ons slegs aan die einde van ‘n groepie liedere moet handeklap. Ons luister mooi maar vind dit maar moeilik. Ekself kan nie help om hande te klap aan die einde van Erica se meesleurende weergawe van Schumann se ontroerende Widmung nie. Die res van Schumann se lieder (en veral Mein Herz ist Schwer) is ewe meesleurend en puik uitgevoer deur Erica.

En toe Margriet met vier lieder van Brahms. Wat ‘n wonderlike volronde en diep stem het hierdie mezzo-sopraan nie! Baie dankie vir ‘n besondere ervaring! Ons het veral Schwestern en Klӧsterfraulein geniet!

Na pouse is dit Mark wat ons beskeie ou vleuelklaviertjie laat snak na sy note met sy uiters professionele weergawe van Chopin se bekende Scherzo nr 2 in B mol mineur, op 31. Dalk moet iemand ‘n “top of the range” Yamaha vleuelklavier aan die Musiekvereniging skenk!

En toe het Erica met die Pieter de Villiers se bekoorlike toonsetting van sewe Boerneef gedigte, ‘n hoogs musikale uitvoering met groot aanvoeling gedoen.

Met die laaste klompie liedere van Roger Quilter en Benjamin Britten was dit asof die woord weer tot sy reg gekom het. Veral Benjamin Britten se Mother Courage was ‘n hele ervaring. En baie dankie vir die toegif! Offenbach se Barcarolle bly altyd ‘n populêre wenner!

Reon Meij

No comments: