Ek moet saamstem met Mozart: Die Koning van Instrumente is voorwaar die pyporrel. Dit het ons Saterdagaand 22 Junie beleef in Stilbaai se NG Kerk tydens ’n orrel-uitvoering deur besoekende orrelis Christiaan Carstens van Humansdorp. Lede van Stilbaai se Musiekvereniging asook die publiek kon luister hoe ’n groot verskeidenheid unieke klanke soos selde tevore uit ons beskeie kerkorrel ontsluit word. Die sleutel tot ons heerlike belewenis was die kreatiewe wyse waarop Christiaan die beperkte stelle orrelregisters van ons relatief klein kerkorrel ingespan het.
Alreeds met die eerste note van Buxtehude se uitdagende Toccata en Fuga in F, het Christiaan getoon dat hy ’n formidabele musikant is: nie alleen met treffende registrasie nie, maar met sekure vinger- en pedaalwerk. Met die daaropvolgende twee komposisies van J S Bach (Pastorale, BWV 590 en Concerto in G, BWV 592), wat hyself as die tegnies mees uitdagende deel van sy program beskryf, toon hy ’n besonderse volwasse vertolking en beheersdheid. Knecht se heel romantiese Sonata in C majeur was eintlik ’n noodsaaklike ontspanning na al die sware musiek!
Vir diegene wat dink orrelmusiek is net “kerkmusiek”, die eerste van die weinige stukkies ware “kerkmusiek” volg toe eers: Johann G Walther se meesleurende stel variasies op die koraal “Meinem Jesu lass ich nicht” waarvan die laaste variasie met die uitkomende melodie in die pedaalnote ‘n triomfantelike einde gee. En net hierna, ’n sprankelitem waarin die veelsydigheid van die Koning van Instrumente na vore kom, Louis C Daquin se reeks variasies op ‘n kerstema: ”Noël: Grand jeu et duo”.
Vir my was die hoogtepunt van die aand Alexandre Guilmant se bekende Preludio uit Sonate nr 3 in C, op 56. Heel verrassend is die program afgesluit met Nigel Ogden se komposisie An Art Deco ”Three Piece” Suite wat eintlik niks anders was as lekker ou regte engelse dance hall musiek nie.
Die enigste rêrige vals noot van die aand was dat daar net 51 mense was om hierdie besonderse geleentheid by te woon.
Reon Meij
No comments:
Post a Comment