Translate

Tuesday, March 31, 2009

Gehalte Jazz in Stilbaai
Die drie-en-tagtig-jarige pianis, Albie Louw, het lede van die Stilbaai Musiekvereniging Sondagaand 15 Maart in vervoering gehad met ....jazz! Nie soseer deur wat hy te sê gehad het oor waar jazz vandaan kom nie, maar die manier waarop sy ratse vingers self die storie van jazz vertel het. En veral die meesterlike wyse waarop hy, soos die aand aanstap, al meer en meer een geword het met Mike en Louise Steytler se vleuelklavier. In die begin was Dave Brubeck se bekende Take Five ietwat stamelend, maar mettertyd het hy vlam gevat met sy vermaaklike variasies alá verskillende komponiste en pianiste op Words en teen die einde het hy met sy keurspelle uit My Fair Lady, Sound of Music en West Side Story die gehoor in die holte van sy twee ratse hande gehad. Ook besonders was sy vertolking van twee van sy eie komposisies. ‘n Hoogtepunt was egter toe hy en Dougie Yazbek spontaan Anemacoré en The Bells are Ringing uitgevoer het. So professioneel dat ‘n mens net nie kon glo dat die twee nog nooit saam gerepeteer het nie! Voorwaar ‘n besonderse aand!

No comments: