Translate

Saturday, January 15, 2022

Suid-Kaap Kinderkoor

 

Die inperking het ons almal eensklaps tot stilstand geruk en ons het onnatuurlik anders begin lewe. Ons het bang geword vir groot getalle mense bymekaar.

Gaandeweg het ons baie geleenthede en mense begin mis – onder andere die heerlike konserte gereël deur die Musiekvereniging waaraan ons gewoond was. En jou waarlik, ‘n geleentheid duik op en dit word moontlik om die Suid-Kaap kinderkoor hier te laat optree. Hulle is bekend in ons omgewing omdat kinders van Swellendam tot in Knysna aan hierdie koor behoort.

Wat ‘n vrolike geleentheid was dit nie, dié klassieke en kersliedere konsert. John Levitt se Festival Sanctus was ‘n jubelende lofsang om mee af te skop, pragtig vertolk deur 45 kinderstemme wat in harmonie sing.

Die program is afgewissel deur solo items, duette en die volle koor – ‘n wenresep vanaf 1996 toe hulle begin sing het. Die afrigter, Jan-Erik Swart, spog met merkwaardige prestasies en poog om gou weer die 80% nuwe leerlinge, touwys te maak. Bekende kersliedere is gebruik om die gehoor ook deel te maak van die geleentheid. Uit die hartlike samesang was dit duidelik dat hulle dit baie geniet het.

Geliefde koorstukke soos ‘Met middernag’ en ‘Jesus bron van al my vreugde’ van Bach, is deur die koor gesing. Die ou-bekende ‘Drummer Boy’ wat eintlik as Carol of the Drum in 1941 die lig gesien het, is gebruik om nuwe lede van die koor se talent, deur solos te ontdek.

Ave verum corpus van Mozart indrukwekkend vertolk deur Jade Smales, het groot applaus uitgelok. Van haar gaan mens beslis weer hoor. In antwoord daarop is Schubert se bekende Ave Maria deur die koor gesing. Twee koorstukke waarvan melding gemaak moet word, is in Palestina’s velde gekomponeer deur Chris Lambrecht en Musica Dei, nog ‘n komposisie deur John Levitt.

Ons weet dat dit baie verg om weer ‘n nuwe koor op standaard te kry maar wil vir die koorleier sukses en sterkte toewens met hierdie taak. Ons wat geluister het was bevoorreg om die jaarprogram op so ‘n besondere wyse af te skop en wens die koor alles van die beste toe.

Esmarie Maré

 

No comments: