Translate

Saturday, July 16, 2011

WESTHUIZEN DUO

Stilbaaiers het Donderdagaand, 14 Julie, ’n besondere belewenis ervaar om na twee briljante pianiste se DUO’S te kon luister.

Die van der Westhuizens, Pierre en Sophia, het mekaar reeds op universiteit ontmoet, en speel sedertdien saam klavier. Hulle is beide professore in klaviermusiek in Cleveland Ohio VSA en het al verskeie ere-toekennings ontvang. Hulle gee dikwels uitvoerings in Amerika en elders, en toer tans in Suid Afrika, vergesel deur hulle 2 kindertjies.

Die program het bestaan uit musiek van die romantiese era wat letterlik ‘n Europese toer van Duitsland, Rusland, Frankryk en Spanje behels het. Die duette is almal oorspronklik geskryf vir vier hande en dikwels uitgevoer as agtergrond- of ontspannings musiek by geleenthede.

Sommer uit die staanspoor het hulle die gehoor bekoor met hulle gemaklike interaksie.

Die program was as volg saamgestel:

1 .F Schubert Fantasie in F min Op 103: Hierdie werk het almal dadelik meegesleur met sy bekende melodieë en liries-spelerige passasies van cache-cache met soek en vind .

2 .S Rachmaninoff Ses stukke Op 11: Dit begin met ‘n tipies Russiese tema gevolg deur ‘n vloeiende wals, dan ‘n emosioneelbelaaide romanse en eindig met ‘n vinnige vurige scherzo.Die werk bevat opwindende passasies van vreugde en opwelling gevolg deur donker depressiewe uitinge. Weliswaar ‘n tegniese uigdaging wat briljant bemeester is.

3.J Brahms Hongaarse danse: Vyf verskillende danse, elk met sy eie kenmerkende ritmiese motief. Met elkeen kon jy jouself inleef.

4. Maurice Ravel Rhapsodie Espagnole: Hierdie Franse komponis beeld sy liefde uit vir Spanje maar met ‘n Franse inslag. Die werk word ingelui met die Prelude van die nag waarin fyn sensitiewe komponente van herhaalde note voorkom wat die atmosfeer van die nag weergee. Dit word gevolg deur danse, Malaguena, Habanera en eindig met Feria, die lawaai van ‘n Spaanse mark. Hierdie werk was ‘n hoogtepunt wat uiterse tegniese en ritmiese vaardigheid vereis en waar vier hande dikwels oor en onder mekaar speel, maar die temas deurlopend behou word.

Die twee kunstenaars het ‘n fyn aanvoeling vir mekaar in hulle samespel. Die resultaat: ’n briljante uitvoering!

Marian Smit

No comments: