Translate

Tuesday, May 24, 2011

Klassieke kitaarspelers oorrompel Stilbaai

Twee jong musici het lede van Stilbaai se musiekvereniging op 14 Mei in vervoering gehad.

Die atmosfeer vir ’n intieme aand van musiek is paslik in die Ooskerksaal geskep met Morné Kahts se gevoelvolle vertolking van die meesleurende Barcarole-agtige Julia Florida deur die romantiese komponis Augustin Mangore. Die jong Kahts, ’n student aan Kaapstad Universiteit, het ons daarna verder vergas met dieselfde komponis se La Catedral waarvan veral die eerste beweging Saudade die gehoor betower het. Dit was egter veral Villa-Lobos se bekende Prelude nr 1 in E mineur wat die luisteraars entoesiasties laat handeklap het.

En toe die Bach-fuga - vir Morné die mees uitdagende solo van sy uitvoering. Die manier waarop hy met ’n kitaar elk van die afsonderlike stemme so klinkklaar en melodieus deurmekaar kon laat vleg, was net verstommend. Die bekende Asturias-Leyenda van Albeniz het groot byval gevind asook twee verfrissende komposisies van Roland Dyens (Tango en Skal en A Night in Tunisia) waarin sterk aangesluit word by verskeie jazz-idiome.

Die eerste duet van die aand volg as Morné saam met die jong Chloe Murphy ons so-te-sê laat mediteer op die maat van Andrew York se Sanzen-In, geïnspireer deur die gelyknamige tempel in Japan. Daarna speel die twee drie verdere Francis Kleynjans duette Three Romances. Kort en verkwikkend.

Chloe toon hierna haar eie virtuositeit met William Walton se Three Bagatelles, waartydens haar gevoelvolle en tegnies vaardige weergawe van Ala Cubana veral beïndruk het.

Terwyl die voorlaaste item op die program ons terugneem na die romantiese tydperk: die Mozart-agtige komposisie Rondo II uit die Rondo Brillianti van Dionisio Aguado (1784-1849) ruk die laaste item ons weer terug na die kontemporêre Dyens met sy jazz-agtige komposisie Libra Sonatine. Hierin word ons vergas op sinkopasie, rasgueados, en vinger-en-hand perkussie op die klankkas. En dit alles opwindend uitgevoer deur Morné wat erken dat dit sy geliefkoosde komponis is. As toegif kry ons toe die bekende Summertime gesing en begelei deur Morné.

Die programnotas en mondelinge kommentaar wat van tyd-tot-tyd deur die twee kunstenaars gelewer is, was baie handig en het getuig van hulle grondige kennis.

Reon Meij

No comments: